Showmax-kykers se 2020 Top 10 gewildste Afrikaanse flieks en reekse tot op hede

13 August 2020

Showmax-kykers se 2020 Top 10 gewildste Afrikaanse flieks en reekse tot op hede

Glo dit of nie, ons is reeds halfpad deur 2020 se wipplankrit. Om die mylpaal te merk en terug te kyk, het Showmax ‘n lys saamgestel van 2020 se gewildste Afrikaanse inhoud vir die jaar sover, in alfabetiese volgorde.

Boer Soek ‘n Vrou

Hoewel dit begin het as ‘n plaaslike weergawe van ‘n internasionale werklikheidsreeks, is die immergroen Boer Soek ‘n Vrou se dertiende reeks tans in produksie en binnekort op die kassie. Terwyl jy daarvoor wag, kan jy op Showmax kyk wat in die vorige vier reekse gebeur het.

In elke reeks gaan kuier die aanbieder (Minki van der Westhuizen in reeks 9 en 10, en Leah in reeks 11 en 12) by tien hubare, enkellopende boere wat op soek is na ‘n lewensmaat. Die boere is nie noodwendig jonk óf manlik nie, en die laaste reeks het ook baie aandag getrek met boer Damian – die eerste gay boer op die program.

Fynskrif

Die prokureurs by Van Wyk en Vennote neem hulle werk ernstig op, maar sukkel dikwels om hulle persoonlike lewens by die huis te hou. Hulle los bedags moeilike regskwessies op, en tussendeur moet hulle moeilike verhoudings, familiekwessies, en die uitdagings van ouerskap oorwin.

SAFTA-wenner Louis Pretorius, wat saam met Albert Snyman die reeks geskryf en vervaardig het, beskryf dit as ‘n mengsel van Boston Legal, The Good Wife, Suits, Parenthood, en Brothers & Sisters. Die duo het hierdie reeks aangepak na hul sukses as vervaardigers van Die Boekklub, waarvoor hulle ook ‘n SAFTA-nominasie vir draaiboekskryf ingepalm het. Fynskrif se tweede reeks het ook by verlede jaar se SAFTAs toekennings gekry vir Beste Klankontwerp in ‘n dramareeks en Beste Oorspronklike Klankbaan in ‘n dramareeks.

Fynskrif se ensemble rolverdeling is ook stampvol hoë-kaliber akteurs soos Neels van Jaarsveld (Binnelanders, Dwaalster, Griekwastad), Cintaine Schutte (Johnny is Nie Dood Nie, en SAFTA-genomineerde vir Die Seemeeu), Chris van Niekerk (7de Laan, Vlug na Egipte), Tinarie van Wyk Loots (Dwaalster), Kim Cloete (Twee Grade van Moord), Beer Adriaanse (Wonderlus, Kanarie), en Edwin van der Walt (Die Pro, Wonderlus).

Hotel

Hierdie werkplek-fopdokkie oor die personeel van ’n sukkelende hotel in die fiktiewe Fransenburg het reeds vier reekse vir jou marathon binge-sessies. Die sitkom, geskryf en geregisseer deur Bennie Fourie (Vuil Wasgoed, Ander Mens) en Stiaan Smith (Sy Klink Soos Lente, Wonderlus), is soos The Office gemeng met Fawlty Towers in kleindorpie-Mpumalanga.

Ferdie Kruger (vertolk deur James Borthwick) is ‘n optimistiese, maar onbevoegde hotelbestuurder, en Beer Adriaanse (Kanarie, Fynskrif) verteenwoordig die luukse hotelgroep wat hulle oorneem. Saam met Simoné Pretorius (Vir die Voëls, Stroomop) agter die ontvangstoonbank, Schalk Bezuidenhout (Kanarie) as ‘bellboy’, Mila Guy (Liewe Kersveesvader, Wonderlus) die kelnerin, en Martelize Kolver (Die Seemeeu, ‘n Pawpaw vir my Darling) as bemarkingsbestuurder Brenda, is daar meer as genoeg konflikte en liefdesdriehoeke.

Hotel het oor die jare ook al drie SAFTA-toekennings ontvang: vir Schalk Bezuidenhout en James Borthwick se toneelspel, en Bennie Fourie en Stiaan Smith se draaiboeke, asook dertien nominasies.

Liewe Lisa

Akteur Hendrik Cronjé (7de Laan) maak sy debuut as skrywer en regisseur met Liewe Lisa. Nadat ‘n buite-egtelike verhouding sy lewensplanne na universiteit deurmekaarkrap, vlug Daniël na ‘n klein dorpie, waar die eenvoudige lewe van ‘n visserman (gespeel deur Zane Meas van 7de Laan-faam) vir hom aanloklik is.

Daniël moet dan kies tussen die eenvoudige lewe, of dit wat eintlik vir hom belangrik is: eerbaarheid, sy passie vir skryf, en liefde – in die vorm van Lisa (Elani Dekker, Jou Romeo, Vaselinetjie).

Jagveld

Leandie du Randt (Vuil Wasgoed, Mooirivier) skud haar mooimeisie-beeld met mening af in Jagveld. Die fliek is geregisseer deur Byron Davis, met ‘n draaiboek deur gesoute skrywer Deon Meyer, wat onder meer die draaiboeke vir Die Ballade van Robbie de Wee en Die Laaste Tango geskryf het, asook die romans Prooi, Dertien Uur, en Spoor. Spoor is verlede jaar in die M-Net misdaadrillerreeks Trackers verwerk is.

Wanneer saggeaarde laerskoolonderwyseres Emma (Leandie du Randt) se paadjie in die dorre Karoo met dié van ‘n gewelddadige dwelmsmokkelbende kruis, moet sy veg om te oorleef. Bietjie-vir-bietjie raak sy van haar sagte voorkoms en pasifisme ontslae, en ’n taai vrou wat weet hoe om haarself te verdedig, steek kop uit.

Neels van Jaarsveld (Binnelanders, Dwaalster, Griekwastad), Edwin van der Walt (Die Pro, Wonderlus), en Tim Theron (Klein Karoo, Griekwastad) verskyn as die bendelede.

Emma is ‘n mengsel tussen die bruid van Kill Bill en Lara Croft uit Tomb Raider. Sy is vir niks bang nie, slaan terug waar nodig, en is net so vaardig soos enige van die mans in hierdie Karoo oorlewings-Western.

O Vet!

Lisa is ’n joernalis by ‘n Christelike tydskrif wat raadop voel oor haar lyf en haar kreatiewe idees. Sy sluit aan by ‘n gewigsverliesgroep waar sy saam met drie ander vrouens en ‘n man hulle lywe wil verander.

Bertha le Roux-Wahl (7de Laan) speel die hoofrol, en saam met Karin van der Laag (Suiderkruis, Isidingo), Solomon Cupido (Ek Joke Net), en Reine Swart (Die Pro), vertel sy ‘n inspirerende storie oor selfrespek en selfaanvaarding.

Radio Raps Live: Genuine

In Genuine kan jy saam met die lewende gehoor lag vir Radio Raps – ook bekend as Jonathan van die Oosrand, met die onderstebo golf-sonskerm. Die grapmaker se plat-op-die-aarde waarnemingskomedie verklap sy opinies oor alles van getroude lewe, spinnekoppe, en TV-programme soos Boer Soek ‘n Vrou.

Swaaibraai

In hierdie kortfilm van verlede jaar se kykNET Silwerskermfees met die kontroversiële, suggestiewe plakkaat, verskyn Cintaine Schutte (Fynskrif, en SAFTA-genomineerde vir Die Seemeeu) en Johann Vermaak (Die Spreeus, Vagrant Queen) as ‘n paartjie wat hulle huwelik probeer opkikker. ’n Nuwe slimfoon-app laat hulle toe om anoniem by ‘n “ruilpartytjie” aan te sluit, waar elkeen saam met iemand anders se lewensmaat huis toe gaan.

Die onderwerp is bietjie gewaag, maar die komedie is prikkelend, en die produksieontwerp staan uit. Dis skrywer-regisseur Gerhard Pretorius se derde kortfilm, na Kloof, en The Discovery of Fire. Die rolverdeling word verder afgerond deur SAFTA-wenner Louw Venter (Swartwater, Corne and Twakkie’s The Most Amazing Show), Lara Toselli (Tali’s Wedding Diary, Chip Up), met Frank Opperman (Dominee Tienie, Queen Sono) en Chanelle de Jager (Projek Dina, Stroomop) as storievertellers.

Sy Klink Soos Lente

Ben is motorwerktuigkundige in Johannesburg, en wanneer hy vir Linda ontmoet, sal hy enige iets doen om haar te beïndruk. Hy vertel vir haar dat hy ‘n sanger is in ’n band, en wanneer sy vra om na hulle volgende konsert toe te kom, moet hy vinnig plan maak om sy leuen te laat waar word. Om dinge erger te maak is sy kollegas en vriende, vertolk deur Bennie Fourie (Vuil Wasgoed, Ander Mens) en James Cunningham (Hotel, Vuil Wasgoed), glad nie goeie musikante nie

Sy Klink Soos Lente spog met Stiaan Smith (Vuil Wasgoed, Wonderlus) en Amalia Uys (Vir die Voëls, Vergeet My Nie) in die hoofrolle en Corne van Rooyen (Vaselinetjie, Alles Malan) in die regisseursstoel. Boonop spog dit ook met ‘n indrukwekkende plaaslike klankbaan, en het Silwerskermfees-nominasies gekry vir Beste Speelfilm, Beste Redigering, en Beste Kinematografie.

Thys en Trix

In die derde grootste lokettreffer van 2018, word die oorversigtige Thys en reëlbreker Trix – broer-en-suster polisiespeurders – forseer om hulle voor te doen as man en vrou om ‘n luukse golflandgoed te infiltreer, en hopelik die leier van ‘n smokkelnetwerk uit te snuffel.

In die hoofrolle speel Bouwer Bosch (Vuil Wasgoed, Mooirivier) en Leandie du Randt (Jagveld, Binnelanders) uitstekend teenoor mekaar, en regisseur Quentin Krog (Ander Mens, Vir die Voëls) balanseer die fliek se komedie, spanning, en aksie.

Die uiteenlopende inwoners van die golflandgoed word vertolk deur Zak Hendrikz (Ballade vir ‘n Enkeling), Dorette Potgieter (Die Kasteel), Chanelle de Jager (Projek Dina), Ivan Zimmermann (Alles Malan), Charlie Bouguenon (Vuil Wasgoed), Deon Coetzee (Spoorloos), met Brendon Daniels (Four Corners, Cowboy Dan) as hulle kaptein.

Die Ondernemers, coming soon
The Mommy Club Sugar & Spice: Meet the moms